Wednesday, 18 July 2012 00:00

IN DIE MENSE 'N WELBEHAE ... DIE STORIE VAN RACHEL'S ANGELS - Litnet

Written by  Naomi Meyer

Alle Suid-Afrikaners wil die land se jeug bemagtig sodat almal kan voordeel trek uit mense wat goed opgelei is, maar waar kry mens die geld vir hierdie opleiding? Spurgeon Haddon-Wilson vertel vir Naomi Meyer van Rachel's Angels.

Hallo Spurgeon, dankie vir die geleentheid tot gesprek. Vertel asseblief vir ons lesers van Rachel's Angels en wat julle doen. Wat ons hier by LitNet in die besonder interesseer, is julle sterk fokus op die hoër grade. Vertel asseblief vir ons waarom mentorsprogramme vir julle van belang is en watter programme julle aanbied?

Dankie vir hierdie geleentheid, Naomi – dit is altyd vir ons 'n voorreg om ons storie aan die publiek te vertel.

Rachel's Angels is in 2007 in die lewe geroep deur Koos Bekker (besturende direkteur van Naspers) en Rachel Jafta (professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, asook direkteur van Naspers) met die doel om 'n bydrae te maak tot kwaliteit-onderrig in die Wes-Kaap. Koos en Rachel het die skokkende statistieke onder oë gekry dat baie leerders (veral in voorheen benadeelde gemeenskappe) ná graad 12 nie die geleentheid het om by tersiêre instansies te studeer nie (omdat baie nie kwalifiseer nie), en indien hulle wel die geleentheid kry, baie van hulle egter reeds in die eerste studiejaar onsuksesvol is. Dus is daar besluit om 'n mentorskapprogram onder die vaandel van Media24 op te rig en sodoende 'n bydra te lewer tot die holistiese ontwikkeling van ons skole, maar veral leerders in die Wes-Kaap. So het Rachel's Angels tot stand gekom.

Spurgeon team

Spurgeon Haddon-Wilson

Ons koördineer 'n mentorskapprogram waarby 20 Wes-Kaapse skole betrokke is (7 graad 11-leerders per skool, dus 140 leerders), asook 140 senior studente van die Universiteit Stellenbosch, wat as mentors vir die leerders optree. Ons program probeer dan holisties 'n bydrae tot die ontwikkeling van die leerders te lewer, en dus fokus ons op akademie (winterskole, aanlegtoetse, werkswinkels wat fokus op studiemetodes en -tegnieke); sosiale en emosionele ontwikkeling (wat dus bestaan uit sosiale geleenthede waar mentors en leerders mekaar beter kan leer ken en tyd saam kan spandeer, werkswinkels wat fokus op kommunikasie, ken jouself en vele meer). Dus, aan die einde van die tweejaar-program hoop ons dan om 'n goed-gebalanseerde persoon (na graad 12) in die wêreld in te stuur met die nodige vaardighede om 'n verskil te kan maak en dan suksesvol te kan wees in tersiêre studies.

Rachel's Angels Trust het besef dat een van die grootste faktore wat bydra tot die swak resultate van vele van ons leerders, en dan ook eerstejaarstudente, is die feit dat hulle nie die nodige ondersteuning gekry het op skool nie. Ons veralgemeen glad nie, maar die tendens is dat baie van ons kinders onsuksesvol is nié weens die feit dat hulle nie akademies sterk genoeg is nie, maar bloot omdat hulle nie die nodige ondersteuning en advies ontvang het nie. Dus, ons het dit dan goedgedink om al hierdie probleme wat ons geïdentifiseer het, aan te spreek deur 'n mentorskapprogram waar studente as mentors dien vir leerders, en die Trust as mentor vir die skool as 'n instansie. Sodoende gee ons aan ons leerders die ondersteuning deur middel van mentors wat advies kan gee, kan help met akademie, maar veral met probleme wat ons jongmense in die gesig staar vandag.

Omdat ons program op holistiese ontwikkeling fokus, bied ons verskeie programme aan onder drie afdelings:

Akademie. Hier bied ons winterskole, lenteskole, aanlegtoetse, werkswinkels wat fokus op studietegnieke en metodes.Sosiaal. Hier gee ons die leerders die geleentheid om deel te hê aan sportdae, kampusbesoeke aan die universiteit, opvoedkundige lesings, en vele meer.Emosioneel. Hier bied ons programme aan waar leerders na skole gaan om tyd saam met die leerders te spandeer in hulle omgewing en 'n bietjie praat oor hulle probleme en uitdagings.

Ek lees julle persvrystelling oor jul "Take a girl child to work"-dag:

As part of the annual "Cell C Take A Girl To Work Day" initiative, 25 girl learners from Kylemore and Stellenzicht High in Cape Town and Soms Luminis in Johannesburg spent the day at the Media24 offices.

Vertel ons asseblief nog hiervan.

Dit was 'n inisiatief van Cell C en Media24 se CSI- (Corporate Social Investment-) afdeling wat 'n groep Rachel's Angels-leerders wat belangstel in die mediawêreld, vir 'n dag na Media24-kantore in Kaapstad geneem het en toegelaat het om die dag daar te spandeer. Hulle het die geleentheid gekry om te kyk hoe koerante gedruk word, en wat elke dag in die drukmedia aangaan. Verskeie persone het ook met hulle kom praat oor media en die wonderlike geleenthede.

Ons hoop om weer volgende jaar met Cell C en Media24 CSI saam te werk aan soortgelyke projekte om vir meer leerders 'n kykie te gee in die verskillende beroepe en hulle sodoende 'n hupstoot te gee met betrekking tot die beplanning van hul toekoms.

Rachelsangels1

Leerders het die dag by die Media24-kantore in Kaapstad spandeer.

Hoe kan leerders by jul programme inskakel en betrokke raak?

Aangesien ons in 20 geïdentifiseerde skole is, identifiseer die Trust en die spesifieke skole die 140 leerders. Tans is ons egter nie in staat om leerders ad hoc te help nie. Leerders wat wil deel wees, kan wel hulle skole daarop attent maak, en hulle skole kan dalk in die toekoms by ons betrokke raak.

Om betrokke te raak by Rachel's Angels, kyk na hul webwerf vir nog inligting:http://www.rachelsangels.co.za.

RachelsAngels2

Original Article

 

 

Read 710 times Last modified on Friday, 12 September 2014 09:37