Saturday, 05 March 2011 00:00

ONS ANGELS IS AAN DIE WOEKER - Rapport

Written by  Colin Hendricks

 

 8e61555bffbc4deeb19d6a1347fb036e
 Die Rachel’s Angels van Schoonspruit Sekondêre Skool van Malmesbury is, van links, Wade Lewis, Jaimee Lategan, Arnene Koopman (agter), Ray-Lin Pietersen, Bronwen Dickson, Jade Larey en Jerobiam Julies.

Die Swartland sê die Boland die stryd aan in die strewe om die beste entrepreneurs op te lewer op die Rachel's Angels-markdag.

KaapRapport nooi alle Wes-Kapenaars om te kom kyk hoe Bergrivier Sekondêr van Wellington en Schoonspruit Sekondêr van Wellington mekaar opdreun op dié dag, wat op 26 Maart by Bernadino Heights Sekondêr in Kraaifontein gehou word.

Die Angels-leerlinge van Bergrivier het hul kreatiewe vaardighede losgelaat en gaan juwelekissies en wynrakke verkoop wat hulle self gemaak het.

Schoonspruit se Angels het ook handvaardig geraak en fotorame en T-hemde gemaak. Hulle loot ook 'n verskeidenheid pryse, soos 'n Karoo-lam, uit.

Boonop verkoop die twee skole eetgoed soos worsrolletjies en kebabs en daar sal dalk net 'n bekende gesig wees wat jou na dié stalletjies toe dwing. Kyk oor die volgende paar weke in KaapRapport uit vir meer inligting.

Bergrivier en Schoonspruit is vanjaar die twee skole onder KaapRapport se media-vlerk vir sowel die markdag as die projek in sy geheel.

Rachel's Angels is die breinkind van prof. Rachel Japhta, 'n US-ekonoom en 'n direkteur van Media24, moedermaatskappy van KaapRapport. Die mentorskapprogram word in samewerking met koerante en tydskrifte in die Media24-stal en die Universiteit van Stellenbosch (US) aangepak.

Die projek behels dat 7 skrander, dog behoeftige leerlinge by 20 skole in die Wes-Kaap geïdentifiseer word. Elkeen kry in hul gr.?11-jaar 'n Matie-student as mentor.

Die Angels is tot einde matriek deel van die program. In die loop van die twee jaar ondergaan hulle opleiding in lewensvaardighede, loopbaanbeplanning en entrepreneursvaardighede.

Twintig skole, van onder meer Atlantis, Manenberg, Malmesbury, die Paarl, Kraaifontein, Stellenbosch en Ravens-mead, neem vanjaar deel.

Op die Markdag het elke skool 'n stalletjie waar hulle goedere of eetgoed verkoop wat hulle self ontwerp of maak. Die wenner word gekies op grond van die aanbieding van hul stalletjies en die wins wat hulle maak.

Die geld mag in die skool se skoolfonds teruggeploeg word of word aan welsynsorganisasies geskenk.

Die leerlinge wat goed presteer op skool kom in aanmerking vir US-beurse en die skool ontvang regte tot Media24-bemagtigingsaandele.

Bergrivier sê hulle het die geleentheid om deel te wees van Rachel's Angels met albei hande aangegryp. "Ons voel baie geëerd om deel te wees van die inisiatief," sê mnr. Anthony Cavernelis, onderwyser aan die skool.

Hy sê hul skool pluk al die vrugte van die Rachel's Angels, wat in 2007 begin is.

"Ons het verlede jaar R4?000 se dividende van Media24 ontvang wat ons skool lekker gehelp het," sê Cavernelis.

Maar dis nie net die skool wat baat vind nie, sê hy, dit help die leerlinge ook.

"Danksy Rachel's Angels gaan die sewe leerlinge gereeld op uitstappies en woon slypskole by. Hulle kry blootstelling aan die lewe en geleenthede daarbuite, ook vir tersiêre studie."

Mnr. John Stewe, 'n onderwyser aan Schoonspruit wat aan die hoof staan van die skool se Angels-inisiatiewe, sê vir dié skool en ook vir ander deelnemende skole is die Rachel's Angels-projek 'n lewenslyn. Hul Angels woeker regdeur die jaar met projekte soos hul eie Rachel's Angels-skoonheidskompetisie en die verkoop van worsbroodjies. Die geld wat só ingesamel word, word in die skoolfonds gestort omdat hulle 'n baie groot persentasie leerlinge het wie se ouers nie die skoolfonds kan bekostig nie.

Schoonspruit was tops op albei die vorige markdae wat al gehou is. En as Bergrivier dink hulle gaan máklik wen, maak hulle 'n fout, want die Swartlanders is vasbeslote om weer die eerste prys te verower.

* Die Markdag se toegangsgeld is R10 vir volwassenes en R5 vir kinders jonger as 18.

Die toegangsgeld word geskenk aan die Kraaifontein-gemeenskapsentrum vir bejaardes, verstandelik en fisiek gestremdes en die St. Raphael-voorbereidingskool in Kraaifontein.

Die dag sluit in 'n 5km-pretstap, die kroning van Mnr. en Mej. Rachel's Angels, 'n babakompetisie, 'n dagsorgsentrum vir kinders en vermaak deur plaaslike kuns­tenaars soos Blackcurrent, Chad Saaiman en La Vuvuzela.

Oorspronklikke Artikkel

Read 895 times Last modified on Friday, 12 September 2014 09:32